Kaptein Albertus Beeslaar het genoeg gehad van die platteland. Hy het pas sy bedanking ingedien, maar word vir een laaste sending die Kalahari in gestuur. Die dood van ’n San-leier en klagtes van polisiegeweld word sy missie.
Op die rand van die Kgalagadi-oorgrenspark, waar die laaste afstammelinge van die Kalahari-San in ’n wildernis van sand en Kalahari-leeus woon, loop hy hom in ’n bynes vas. Die brutale aanval op ’n Duitse toeris ontketen ’n rits gebeure wat ’n multimiljoenrandse projek vir die San kan verongeluk.
En dan val die volgende dooie. Beeslaar kry ’n nuwe kollega, kolonel Koekoes Mentoor, ’n hardekwas rissiepit wat saam met hom deur ’n doolhof van politiek, mites en moord moet stap.
Gelyktydig moet Kytie Rooi, skoonmaakster by ’n luukse gastehuis op Upington, die Kalahari in vlug met ’n vreemde straatkindjie aan die hand.
Beeslaar gaan buite toe vir vars lug en stilte. Die kroeg raas te veel, doefdoef-musiek en dronkpraatjies.
Daar’s wolke aan’t kom, sien hy, die stormweer van Upington wat hom toe tóg agterhaal het. Dis drukkend en stil buite, glimmerings van weerlig wat kort-kort die horison verlig. Etlike sekondes later kom die dowwe gerammel agterna.
Gramstorig en beneuk, dink hy. Join the club, manne, veral na ‘n dag soos vandag.
Sy voete is bliksems seer. En hy’t ‘n slegte voorgevoel aan hom: impending doom. Die vinnige “joppie” vir die Moegel is besig om bagasie op te tel. Hy moes vanaand in Johannesburg gewees het. In die gastehuis in Melville met ‘n lang drankie in die hand, besig om na môre se semiverjaardagpartytjie uit te sien.
Hy’t nog nie die teddiebeer toegedraai nie, onthou hy skielik. Was nog van plan om iewers geskenkpapier te koop.
Hy sug en drink ‘n sluk bier. Vir die eerste keer in ‘n lang tyd mis hy ‘n sigaret. Enigiets om die kak smaak van die dag se gesukkel uit sy mond te kry.
Dit moes verdomp die begin van sy nuwe lewe gewees het. Die kans om ‘n gesin te bou.
‘n Gesin. Herre, hy durf nie eens die woord uiter nie. En ‘n kind, sy eie. Dit maak soveel onbekende emosies by hom los. Vreemde gevoelens: Een oomblik ‘n gloed van geluk, jou hart swel soos ‘n rugbybal. Die volgende is dit yskoue angs. Oor jy skielik iets het wat saak maak. Iets wat jou aan die lewe anker, ‘n vastigheid in ‘n waansinnige wêreld.
Hy skud sy kop in die donker. Genoeg van die morbiede gebroei. Hy vat die laaste sluk van sy Windhoek Lager. Vanaand wil hy hom kruppel drink. Na ‘n dag soos vandag verdien hy dit, verdomp. En dit bly die beste purgasie vir ‘n kop vol kak. Dié bier was net foreplay. Hierna is die speletjies verby: dubbels van elke soort brandewyn in die hotel se kroeg.
Dit sal help opmaak vir die tos situasie waarin hy hom vanaand bevind: halfpad uit die polisie, halfpad in ‘n nuwe job in. Hy wás halfpad in by Gerda, die liefde van sy lewe. Maar na vandag is hy vir seker weer uit. Was halfpad op pad Johannesburg toe, maar sit pens en pootjies in die fokken Kalahari. Waar dit sweersekerlik nie makliker gaan raak nie. Die gesprek in die kroeg is klaar ‘n rigtingwyser – klomp ouens met waarheidwater agter die blad wat onwetend ou Kappies de Vos se gat toestop.
Miskien nie genoeg bewyse vir ‘n regter nie, maar beslis ‘n aanduiding van hoe die wind hier waai: Texas Ranger gekruis met Buffalo Bill. Miskien moet hy eers vir Gerda bel voor hy aan die drink raak. Aan die ander kant – dalk moet hy eers ‘n moedskepdop drink. Dalk moet hy glad nie bel nie. Sy slaap tien teen een al.
Hy is op die punt om weer in te gaan toe hy ‘n voertuig met gedompte ligte gewaar wat stadig uit Upington se rigting aangery kom. Dis ‘n groot masjien, 8 silinder 4.5-liter diesel met ‘n luukse, sysagte spin. Die pad is naby genoeg, omtrent so 200 meter van die lodge se stoep waar hy staan. Hy probeer om te sien watse voertuig dit is, maar hy kan nie, dis net te donker. Hy kyk hoe dit stadig voor die lodge verby drentel.
Die opmerking in die kroeg, vroeër, oor De Vos en die “veldkabouters” en “hasejag” kom skielik by hom op. Hy skud dit uit sy kop. “Jy’t nog drank nodig, Beeslaar, die son het jou brein gebraai,” mompel hy vir homself en tel sy leë glas op om in te gaan.
Dan hoor hy die skoot.
Hy sit die glas neer. Die voertuig trek met skreeuende bande weg, hoofligte aan, soekligte op die dak wat die wêreld verhelder.
Vir ‘n kort oomblik pen dit ‘n mansfiguur vas, ‘n warreling klere en pompende arms oor die teerpad wat vinnig weer in die lang gras aan die oorkant van die pad verdwyn. Beeslaar sit instinktief sy hand op sy pistoolheup. Hou dit daar, gereed, terwyl hy stip na die pad staar. Die groot kar jaag tot waar die figuur verdwyn het, rem hard en swenk van die pad af agter die hardloper aan. Voor ‘n hoë ogiesdraadheining stop dit in ‘n wolk stof. Daar’s ‘n dubbele hek, maar dis toe. Een van die deure gaan oop en ‘n man vlieg uit, hardloop na die hek toe en maak dit oop.
Die kragtige enjin dreun en die voertuig skiet deur, sy ligte val op ‘n klein houthuisie. Beide huisie en kar verdwyn in die groot bolle stof. Dan klap daar nog ‘n skoot en van iewers uit die stof en die donker is daar dowwe uitroepe.
En dan nóg ‘n skoot.
Beeslaar hardloop, blindelings. Al met die gruispad van die lodge af tot by die teerpad. Hy’s bewus van sy stukkende voete, maar dis nou minder belangrik.
Oorkant die pad is die sand dik en ongelyk, maak dit moeilik om in die donker regop te bly. Dan is hy om die huisie, maar loop hom byna disnis teen ‘n stewige kêrel met ‘n flits in die hand. Die flits tref hom hard teen die kop.
Hy voel hoe die nag om hom kantel, ‘n skerp pyn wat deur sy skedel bars. Hy steier, probeer sy balans hou, maar sy bene swik en hy sak op sy knieë neer.
“Polisie,” probeer hy sê, maar hy’s nie seker of die woorde by sy mond uitkom nie. Dit voel of daar nie lug in sy longe is nie.
“Wat de hel …” sê die vent met die flits, skyn dit vol op Beeslaar se gesig.
Hy lig sy een hand om sy oë af te skerm.
“Hô,” roep die flitsman. “Stadig, stadig. En laat los jou wapen. Lós!”
Beeslaar maak sy hand oop, voel hoe die wapen hardhandig gegryp word. “Wag,” probeer hy prewel. Sy mond is kurkdroog en sy tong dom. “Pol-polisie …” Hy kyk op, maar die flits verblind hom. Agtertoe sien hy die voertuig rooi briek.
“Dáár’s hy!” roep iemand uit. “Oor die duin! Oor die duin! Daai kant toe! Rý, ry, ry! Tebogo! Ons gaan hom fokken verloor!”
Die enjin brul woedend. Maar ruk dan dood. “Wat fokken máák jy, man! Ry!”
Die flits swaai weg uit Beeslaar se gesig en terug in die rigting van die voertuig. Dis ‘n moerse groot Land Cruiser, sien hy, met sy neus in ‘n sandduin en fonteine sand wat agter sy wiele opstaan.
Beeslaar besluit hy moet nóú iets doen, terwyl sy aanvaller se aandag elders is. Hy beur orent, so flink as wat sy bene hom toelaat, en stamp sy aanvaller hard in die sy. Die man roep uit en strompel eenkant toe, verloor sy balans en sak op sy hurke. Beeslaar laat nie op hom wag nie en hy mik ‘n skop na die man se ribbes.
“Ug,” sê die man en syg op die sand neer. Beeslaar gryp hom voor die bors en slaan hom met die hakskeen van sy hand vol op die neus. Dis nie ‘n harde hou nie, maar hard genoeg dat die kêrel skree en na sy gesig gryp.
“Bliksem,” sê Beeslaar uitasem en laat val hom. Hy tel die man se flits op en lig op die sand rond tot hy sy pistool half onder die man se lyf sien uitsteek. Hy raap dit vinnig op en skyn dan die flits op die Cruiser teen die duin. Die bestuurder, sien hy, probeer steeds om die spulletjie aan die gang te kry, maar die loodswaar voertuig versit geen tree nie.
Beeslaar bring die lig terug na die vent op die grond. “Polisie,” sê hy. “Wat’s jou naam? Op wie skiet julle?”
Die kêrel kreun en Beeslaar buk by hom. Hy ruik drank.
Die neus lyk nie gebreek nie, maar hy’s goed stukkend, bloed stroom oor die lip. Hy deursoek die man vlugtig, voel nie ‘n wapen nie. Hy maak sy beursie oop en ontdek sy polisiekaart.
Fok.
Hy swaai die flits weer na die Cruiser toe. Hy sien ‘n dowwe figuur voor die voertuig wat aanwysings vir die bestuurder binne-in uitroep. Bo teen die duin is iemand met ‘n geweer in die hand besig om deur die los sand na bo te sukkel. Beeslaar hoor hom uitroep, maar kan nie hoor wat hy sê nie. Dan raak hy weg in die donker.
En die Cruiser se enjin vrek wéér.
“Lê,” sê Beeslaar vir die ou hier by hom op die grond.
“Jy’t my flippen neus gebreek,” kerm hy. “Ek gaan jou aankla!”
“Jy en jou antie,” sê Beeslaar. “Wat’s jou naam? En op wie skiet julle?”
“Kaptein De Vos gaan jou dik donner, bliks -”
“Op wié skiet julle?”
” ‘n Fokken verdagte, wat anders!”
Dan klink daar nog ‘n skoot op, weergalm in die stilte.
Beeslaar begin hardloop. “Kry back up,” skree hy oor sy skouer. “Nog mense!” Die kêrel skel iets agterna, maar hy hoor skaars.
Die Cruiser is leeg, sien hy toe hy nader kom. Hy lig met die flits op die kruin van die duin langs, sien waar die ou met die geweer oor is. Die sand is te los daar, hy weet hy gaan sukkel. Regs van die voertuig lyk dit meer kompak. Hy bêre die pistool en begin haastig teen die duin optrap. Die sand is diep. Plek-plek sak hy tot oor sy enkels weg.
Bo gekom, lig hy op en af in die duinstraat aan die ander kant. Hy sien spore – te veel. Maar oor die volgende duin sien hy ‘n lig.
Hy is bereid om geld te wed dat die een met die geweer De Vos self is. Agter wie is hy aan? Die inbreker van Askham?
Hel.
Bad luck en trouble kwadraat. Hoe de fok het jy hier beland, Beeslaar?
Maar daar’s nie tyd vir dink nie, want hy gewaar ‘n beweging op die oorkantste duin – ‘n man met sy rug na Beeslaar wat sy geweer op iets of iemand onder hom rig. Dan skiet hy. Die skoot weergalm in die duine in.
Beeslaar kom in beweging, hardloop met lang treë teen die styl duin af, oor die vaste sand onder in die duinvallei en weer op teen die oorkant. Hy is nét bo en gereed om oor die duin te gaan toe daar ‘n harde uitroep opklink. Hy val onmiddellik plat en skakel die flits af. Hy wil nie per ongeluk in daardie geweer se visier beland nie.
Vir ‘n rukkie bly hy lê, ore gespits. Dan loer hy versigtig oor die duin. Eers sien hy niks nie, maar dan is daar dowwe bewegings ondertoe. Hy skakel die flits aan, gooi die straal in daardie rigting.
Dis dan dat hy die stil liggaam van die polisieman gewaar. En die donker figuur wat vinnig van die toneel weghardloop. Met die geweer in sy hand.